Speelgoed vir ‘n skool

Naweek Beeld, Saterdag 4 Desember 2010

Houtspeelgoed aan skool ‘is ’n hartsgeskenk’

Antoinette Pienaar

“’n Mens sal hulle nooit kan vergoed vir die ure se handewerk nie. Dit is ’n hartsgeskenk.”

So het me. Mariza Joubert, departementshoof van die voorskoolse afdeling van die Nuwe Hoop-skool vir kinders met spesiale behoeftes, gister gesê oor duisende rande se handgemaakte houtspeelgoed wat aan die skool geskenk is.

Die Houtwerkvereniging van Pretoria het hul lede vanjaar as deel van hul Projek Plank gevra om duursame, veilige houtspeelgoed te maak. Die speelgoed is ná ’n onlangse uitstalling aan Nuwe Hoop geskenk.vir kinders met spesiale behoeftes geskenk het.

Die sesjarige Dylan du Preez speel met ’n handgemaakte houtvliegtuig, een van ’n versameling houtspeelgoed wat die Houtwerkvereniging van Pretoria aan die Nuwe Hoop-skool vir kinders met spesiale behoeftes geskenk het.

Gister het kleuters op houtperdjies baljaar en gespeel met die motortjies, vliegtuigies, ’n houtwiegie en selfs ’n ark met diertjies wat in vormpies pas.

Me. Hannie Muller van die skool se bemarkingsafdeling het gesê die vereniging het ook ’n handgemaakte skaaktafel en houtblokkies ontvang wat ontwerp is om kinders se wiskundige vermoë te ontwikkel.

Volgens mnr. Paul Roberts van die vereniging verkoop sommige van die lede hul ware, maar in baie gevalle word die stokperdjies bloot vir die liefde daarvan beoefen omdat dit nie altyd kommersieel sinvol is om ’n prys aan ure se handewerk te koppel nie. 

Fernando dos Santos (8) en Jeandré du Randt (3) lyk vasbeslote om uit te vind watter diertjies ’n plek het in dié handgemaakte hout-ark.

Volgens Joubert is die skool ontsettend dankbaar omdat hul begroting nie daarvoor voorsiening maak om sulke speelgoed aan te koop nie.

Drie kleuterskoolklasse, agt grondslagfaseklasse en twee lewensvaardigheidsklasse het die speelgoed ontvang.

Mense wat die skool wil ondersteun kan Muller by 084 264 7840 bel.  Meer inligting oor die vereniging is by www.https://ptawoodworkers.com beskikbaar.

Foto’s: Nelius Rademan

 

Bykomende fotos